​8 Klein badkamers waaroor jy dol gaan wees

Johannes van Graan Johannes van Graan
Projeto F & M, Ricardo Cavichioni Arquitetura Ricardo Cavichioni Arquitetura Modern bathroom
Loading admin actions …

Ons almal weet dat dit nou nie die maklikste ding op aarde is om ‘n klein vertrek stylvol te laat lyk nie, veral nie wanneer daardie vertrek prakties ook moet wees nie, soos ‘n badkamer. Ja, nie maklik nie, maar definitief nie onmoontlik nie!

Vandag se stukkie inspirasie fokus direk op klein badkamers en die verskillende maniere wat mens hulle pragtig én prakties kan maak – ja, dit ís moontlik, jy moet net kreatief wees…

1. Weerkaats daardie spasie

Daar is ‘n paar elemente wat elke badkamer nou maar net moet hê, en ‘n spieël is een van hulle. Maar vergeet maar van ‘n ou klein muurkassie spieëltjie en gaan eerder vir ‘n groot een wat ‘n muur lekker kan opvul – dit kan daardie klein badkamertjie sommer lekker groter laat lyk sonder om enige vloerspasie op te vat!

2. Kies jou kleure

Wie’t gesê helder kleure hoort nie in ‘n klein spasie nie? Hierdie voorbeeld wys vir ons hoe perfek bont kleure en lekker patrone ‘n klein vertrek kan opstyl sonder om dit beknop te laat lyk.

Let wel: moenie dat daardie helder kleure en patrone elke liewe muur oorneem nie, aangesien dít die vertrek wel kleiner sal laat lyk.

3. Wat van rustieke styl?

Wanneer dit by rustieke ontwerpe kom, is hout een van die gewildste materiale om te gebruik – en ons almal weet hoe warm, gemaklik en “huislik” houtafwerkings ‘n spasie kan laat lyk en voel.

Kyk bietjie hoe lekker werk hierdie houtdeur (en –muur en –plafon) saam met die groen teëls. Die feit dat die hout in ligte, warm skakerings verskyn in plaas van donker maak natuurlik die wêreld se verskil.

4. Fokus op stoorplek

‘n Deurmekaar badkamer is die laaste ding wat mens benodig, veral as daardie badkamer klein ook nog is. Hier is waar stoor- en bêreplek baie belangrik is, hetsy dit nou ‘n kas, hangrakke of sommer ‘n eenvoudige badkamerkassie is.

5. Briljante beligting

Jou badkamer se ligte moet nie net genoeg lig verskaf nie, hulle kan ook styvolle dekorstukke wees. Kyk bietjie na hierdie voorbeeld met sy treffende beligting wat so suksesvol is dat mens skoon vergeet van die vertrek se klein uitleg!

6. Elegante afskortings

Klein vertrekke gaan nog kleiner lyk met ekstra mure, maar hoe gemaak wanneer jy, byvoorbeeld, die stort wil afskort van die toilet of wasbak? Hierdie eenvoudige-dog-stylvolle ontwerp is ‘n treffende voorbeeld van hoe verskillende areas in ‘n klein badkamer van mekaar geskei kan word sonder om die vertrek se oogspasie te verminder.

7. Jy mag maar met mosaïek

Moenie die trefkrag van mosaïekteëls onderskat nie – ‘n klein badkamer beteken jy moet versigtig wees met die hoeveelheid dekorstukke wat jy inbring. Dus is ons dol oor mosaïekteëls, aangesien dit beide kleur en patroon inbring sonder om spasie te mors!

8. Ligte kleure

Ja, ons weet ons het gesê dat helder kleure kan werk in ‘n klein vertrek, maar hulle kom nie naby ‘n neutrale kleurskema nie, wat ideaal is om enige klein spasie bietjie groter te laat lyk en voel.

Wit, grys, bruin, room… dink bietjie aan al die verskillene neutrale kleure wat, tesame met goeie beligting en groot spieëls, daardie badkamer van jou ‘n bietjie visuele ruimte kan gee. 

Volgende op ons leeslysie: 11 stoorplek idees wat jou dalk sal verras.

Need help with your home project?
Get in touch!

Highlights from our magazine