Om die regte materiale te kies vir jou huis se vloere is nie kinderspeletjies nie, aangesien die resultate prakties én pragtig moet wees – en dit geld natuurlik vir elke vertrek, van sitkamer en gang tot die kombuis en slaapkamers.
Vandag beloer ons ‘n huis wat gedoen is deur Add-Con Architect in Thailand om jou so bietjie te inspireer en idees te gee vir jou huis se vloere, binne en buite!
Die oopplan sitkamer en eetkamer se vloer is opgestyl met porselein teëls in a sagte wit, wat nog meer prominent skitter danksy die lig wat na binne skyn.
Kyk net hoe pragtig kontrasteer die sagte wit met die donker bruin van die deur, vensters en trappe, om nie eers te praat van daardie diep blou teenaan die een muur nie.
Hierdie foto is genoeg om enigiemand te oorreed om hul teëls ordentlik en gereeld skoon te maak – kyk net hoe wonderlik weerkaats die vloer die vensters, en dis net omdat hulle so blink gevryf is.
Aangesien daar met water in die badkamer gewerk word, sou dit gevaarlik gewees het om sulke gladde vloere hier in te bring; dus, het die ontwerpers besluit om maar by meer growwe teëls te hou, wat nietemin ook heel skaflik in ‘n sagte sand kleur lyk.
Volgende is die kombuis, waar die vloere en mure bietjie meer prettig voorkom danksy hul patrone en kleure, veral daardie Mediterreense-styl teëls van die vloer. En kyk net hoe pragtig werk dit saam met die warm bruin van die kombuiskaste.
Laaste, maar beslis nie die minste nie, is die balkon, waar ‘n meer rustieke styl vir die teëls gekies is. Gekleur in ligte, sanderige skakerings om uit te staan tussen die wit muur en swart reling, word hierdie teël vloer ook baie meer prominent wanneer dit saam met die helder groene van die tuin in die agtergrond gesien word.
Volgende op ons loerlysie: 27 ongewone skuifdeure wat jy moet sien!